
LEER, SPEEL & PRESTEER
By Laerskool Trichardt glo ons dat kinders die beste leer wanneer hulle met vreugde ontdek, met oorgawe speel, en saam met ander groei.
Ons streef daarna om ’n gebalanseerde omgewing te skep waar akademiese uitnemendheid, sportmangees en kultuurtrots hand aan hand loop.
AKADEMIE
Ons akademie bied ’n omgewing van klein klassies, waar elke leerder persoonlike aandag en doelgerigte ondersteuning ontvang. Met gehalte-onderwysers wat passievol is oor leer en ontwikkeling, word elke kind se unieke vermoëns raakgesien en hul akademiese potensiaal ten volle ontgin. Benewens die kernvakke bied ons ook ekstra klasse soos robotika, tegnologie, kuns en ander vaardigheidsprogramme aan. Hierdie programme bevorder kreatiwiteit, kritiese denke, probleemoplossing en selfvertroue.
Ons fokus daarop om leerders holisties te ontwikkel en hulle met die nodige vaardighede toe te rus om met selfvertroue die toekoms aan te pak.

ons klasse
By Laerskool Trichardt fokus ons op gehalte onderrig in klein klassies, wat verseker dat elke leerder persoonlike aandag en ondersteuning ontvang. Hierdie benadering bevorder begrip, groei en selfvertroue. Ons toegewyde onderwysers help leerders om hul volle akademiese potensiaal te bereik, met gereelde terugvoer en remediëring waar nodig, sodat elke kind suksesvol en goed voorberei vir die toekoms is.

TEGNOLOGIE
Ons rekenaarlokaal bied elke leerder toegang tot programme soos Word, Excel en PowerPoint, terwyl spesiale leesprogramme hul vaardighede verbeter. Tegnologie hier maak nie net dinge beter nie - dit maak beter dinge moontlik.

AKADEMIESE Ondersteunings programme
By Laerskool Trichardt bied ons verskeie ondersteunings programme om elke leerder se leerervaring te versterk. Hierdie programme sluit in:
Remediëring en bykomende hulp vir leerders wat ekstra ondersteuning in kernvakke benodig.
Lees- en taalprogramme om begrip, vloeiendheid en woordeskat te verbeter.

spelling bee en akademiese kompetisies
Spelling Bees en taalwedstryde maak leer lekker en uitdagend. Leerders verbeter hul spelvaardigheid, aandag en geheue terwyl hulle trots hul kennis wys. Ons vier leer deur speletjies, glimlagte en gesonde kompetisie.
SPORT
Laerskool Trichardt het ’n warm en trotse kultuur wat heers onder ons sportspanne en hulle afrigters. Al is ons kompetisie- en prestasiewêreld sterk, word elke kind se welstand en emosionele belange altyd op die hart gedra. Sport by Laerskool Trichardt word beoefen nie net om ons leerders fiks te hou, van sportmangees en tegnieke te leer nie, maar ook om ons kinders lewenslesse, selfdissipline, netheid, volharding en selfvertroue te gee.
Trichardt is een van die kleinste skole in ons provinsie, maar ons staan nie terug vir enige skool nie en is op alle sportgebiede meer as net kompeterend. Ons prys ons met hoë kwaliteit afrigters wat daarna streef om elke kind te ontwikkel tot die hoogste moontlike vlak. Ons afrigters is altyd bereid om die ekstra myl te stap en bevorder ouer ondersteuning deur goeie kommunikasie.
SPORT WAT LAERSKOOL TRICHARDT AANBIED
Laerskool Trichardt spog met van die beste fasiliteite, toerusting en apparate, wat ons in staat stel om ’n uitgebreide verskeidenheid sportsoorte aan te bied. Ons bied verskeie geleenthede vir leerders om deel te neem aan sport en spog met ’n groot atletiekspan, vyf rugbyspanne, agt netbalspanne, ses krieketspanne, vier hokkie-spanne en ses skaakspanne. Ons bied ook boogskiet en fietsry aan, waar ons onafhanklik deelneem en groot prestasies behaal.

Atletiek
Atletiek by Laerskool Trichardt is ’n hoogtepunt van ons sportprogram. Met ’n sterk fokus op tegniek, spanwerk en deursettingsvermoë, kry elke leerder die kans om sy of haar volle potensiaal te bereik. Ons passievolle afrigters en toegewyde leerlinge verseker dat ons elke jaar uitmuntende prestasies behaal.
Oefen tye 1ste Kwartaal
Aktiwiteitsperiode: 10.55 - 11.45
Maandag tot Donderdae: 13.45 - 15.15
Kultuur
Ons spog met verskeie kultuur aktiwiteite van die hoogste gehalte. Ons personeel skep 'n omgewing van liefde, samewerking, volharding en selfvertroue.
Ons leerders se prestasies op kultuur gebied is asemrowend, maar wat nog meer uitstaan is ons leerders se voorkoms. Altyd netjies, met glansterende persoonlikhede en glimlagte kan almal sien ons oefen en neem met oorgawe deel.
01
Koor
Om deel te wees van Laerskool Trichardt se koor verg harde werk, fokus en passie. Ons ontwikkel pragtige kinderklanke en gee leerders ’n gevoel van behoort, waar hulle die skool met trots verteenwoordig. Elke koorlid sing voltyds en neem deel aan feeste en kompetisies, met jaarlikse uitstaande prestasies. Musiek verbind ons almal - kom luister en wees verstom!
02
Revue
Drama gee leerders die kans om hulself kreatief uit te druk, selfvertroue te bou en samewerking te leer.
Ons jaarlikse revue en optredes bring die verhoog tot lewe met dans, sang en toneelspel.
Elke kind kry ’n kans om te skitter — of dit agter die gordyn of in die kollig is.
03
Kuns
Picasso’s
Laerskool Trichardt is die enigste skool in die dorp wat oor ’n kunsateljee beskik. Ons bied unieke geleenthede vir leerders om hul talent te ontwikkel. Leerders het toegang tot verskeie materiale, tegnieke en professionele begeleiding. Die kind kry persoonlike aandag en aanmoediging om kreatief te eksperimenteer, nuwe vaardighede aan te leer en selfvertroue in hul kuns te bou. Die ateljee bied ’n inspirasievolle ruimte waar hul unieke styl kan ontwikkel en hul werk gereeld uitgestal of bespreek word.
04
Redenaars
Redenaars ontwikkel kommunikasievaardighede, logiese denke en selfvertroue. Leerders neem deel aan interne en interskole kompetisies, en leer om hul opinies respekvol te verwoord.
Ons glo dat elke stem saak maak - en dat woorde die wêreld kan verander.
05
Landsdiens
Landsdiens leer leerders om om te gee vir die gemeenskap, die natuur te waardeer en ’n verskil te maak. Graad 1–7-leerders neem deel aan projekte, kampe en spanaktiwiteite wat leierskap, vriendskap en verantwoordelikheid ontwikkel. Dit gaan nie net oor aksies nie, maar oor harte wat omgee en hande wat help – ’n geleentheid om die wêreld beter te maak.
Ondersteunings Programme
By Laerskool Trichardt glo ons dat elke leerder uniek is en die reg het op ondersteuning wat hul volle potensiaal help ontsluit. Ons bied ’n geïntegreerde ondersteuningsprogram wat akademiese, emosionele en sosiale ontwikkeling bevorder.
Nadine Dunn - Spelterapeut
Ons skool werk saam met ’n gekwalifiseerde spelterapeut, Nadine Dunn, wat leerders ondersteun deur middel van speletjies en kreatiewe aktiwiteite. Nadine help kinders om hul emosionele, sosiale, kognitiewe en fisiese vaardighede te ontwikkel in ’n veilige en stimulerende omgewing. Deur spel en terapeutiese intervensies word kinders aangemoedig om selfvertroue te bou, kommunikasievaardighede te verbeter en beter te kan fokus in die klaskamer.

Beyond
Beyond Multidissiplinêre Praktyk bied omvattende dienste wat ontwerp is om kinders en gesinne oor ’n wye reeks behoeftes te ondersteun. Die sosiale vaardigheidsprogramme help kinders om kommunikasie-, emosionele regulering- en sosialisering in ‘n ondersteunende, gestruktureerde omgewing te ontwikkel. Individuele terapie fokus op persoonlike-, emosionele- en gedragsuitdagings. Hierdie praktyk spesialiseer ook in forensiese dienste vir die doel van hofverwante aangeleenthede.

Igna Beukes (Opvoedkundige Sielkundige)
Igna Beukes is ’n geregistreerde Opvoedkundige Sielkundige met 26 jaar ervaring in die ondersteuning van kinders, adolessente en gesinne binne opvoedkundige en terapeutiese kontekste. Hierdie praktyk fokus op assesserings, intervensies en leiding wat daarop gemik is om leer-, emosionele, gedrags- en ontwikkelingsuitdagings aan te spreek. Met ’n kliëntgesentreerde en etiese benadering werk Igna in samewerking met gesinne, skole en ander professionele persone om veerkragtigheid, akademiese sukses en algehele welstand te bevorder. Haar praktyk weerspieël ’n sterk verbintenis tot professionaliteit, deernis en positiewe ontwikkelings uitkomste.

Laerskool Trichardt
Ruth First Straat
Trichardt
2300
Skoolure
Maandag-Donderdag
07.30-13.30
Vrydag
07.30-13.00
Kantoorure
Maandag-Donderdag
07:00 tot 14:00
Vrydag
07:00 – 13:00
© 2026 by Laerskool Trichardt









